VINPRO COVID-19 NUUS: 23 MAART 2020

President Cyril Ramaphosa het Maandagaand, 23 Maart 2020 ʼn landswye staat van inperking aangekondig wat geld vir 21 dae van middernag op 26 Maart 2020 tot middernag op 16 April 2020.

Vind hiermee die volledige toespraak deur die President, met spesifieke gedeeltes in geel wat op die landbousektor van toepassing is.

Ons is deeglik bewus van spesifieke vrae rondom die oes van wyndruiwe, vervoer van werknemers, seisoenswerkers, kelderaktiwiteite, laboratorium-dienste, logistiek, bottelerings-fasiliteite, asook ʼn hele aantal ander aktiwiteite verwant aan die wyn-waardeketting, insluitend die verkoop van wyn in supermarkte en/of losstaande drankwinkels.

Dit is Vinpro se interpretasie dat:

  • Die wynbedryf deel vorm van bepalings wat op die landbousektor van toepassing is en daarom kan aktiwiteite op produksievlak voortgaan, spesifiek met betrekking tot streke wat nog besig is om te pars.
  • Aktiwiteite by wynkelders sal waarskynlik beperk word tot noodsaaklike dienste (wynmaak en laboratoriumdienste), terwyl proelokale, restaurante en toerisme-aktiwiteite gesluit moet word.
  • Die hawens sal oop bly vir die uitvoer en invoer van goedere. Vinpro doen spesifiek sterk voorspraak hieroor.

Aspekte waaroor die wynbedryf nou, saam met ander landbou-organisasies en die regering dringend uitklaring kry, is:

  • Wat is die implikasies vir die verkoop en verbruik van wyn buite restaurante, kroeë en proelokale (m.a.w. off-consumption)? Mag drankwinkels en supermarkte voortgaan om drank te verkoop?
  • Kan die vervoer van goedere voortgaan, of is daar beperkings? Dit is van toepassing op uitvoere en aflewering.
  • Wat is die addisionele protokol vir die vervoer van werknemers na plase in terme van veiligheid en higiëne?
  • Wat sou die effek op sertifiseringaktiwiteite wees?

ʼn Amptelike Gazette behoort ook binne die volgende twee dae uitgereik te word met verdere besonderhede oor die uitvoering van die strenger maatreëls.

Wees verseker dat ons as wynbedryf reeds die afgelope tyd bogenoemde aspekte deel gemaak het van ons onderskeie gespreksforums. Dis nou belangrik om die interpretasie van die aangekondigde maatreëls met die onderskeie regeringsdepartemente te bevestig en seker te maak dat enige grys areas en/of moontlike verskillende interpretasies uit die weg geruim sal word – dit geld op nasionale en provinsiale vlak in beide die Wes- en Noord-Kaap.

Gesprekke vind oor die volgende twee dae geskeduleerd tussen die onderskeie partye plaas. Ons onderneem om finale uitklaring aan u te kommunikeer soos wat dit beskikbaar is, op ʼn gekoördineerde wyse, en beperk tot werklike tasbare uitsette ten opsigte van spesifiek permitte en magtigingsbriewe.

Volg ook gerus die volgende platform vir wynverwante nuus rondom COVID-19. https://www.wineland.co.za/covid-19-info/.

Ons waardeer jul geduld en wens julle voorspoed toe met jul onderskeie aktiwiteite in die wingerd en kelder.

Groete,

Vinpro
tel:      
+27 (0)21 276 0429
e-pos:  info@vinpro.co.za
web:    www.vinpro.co.za
Vinpro, Ceciliastraat, Suider Paarl, 7646

Share this Post

Leave a Comment

Your email address will not be published. Required fields are marked *

*
*